Deurbraak in soektog na vermiste man

Nampol in die Erongo-streek het ‘n deurbraak gemaak in die saak van die vermiste 69-jarige Henry Jacobus Mapanka van Hentiesbaai. Mapanka is op 19 September as vermis aangemeld nadat hy alleen na Sesfontein gery het in sy wit Nissan Hardbody dubbelkajuit-bakkie maar nooit sy bestemming bereik het nie. Die polisie is Donderdagaand in kennis gestel van ‘n wit bakkie wat in water opgemerk is sowat 21 kilometer van die Ugabmond-hek op pad na Torrabaai. ‘n Ondersoekspan het Vrydag die bakkie heeltemal onder water aangetref in ‘n diep gat wat tydens padwerke langs die pad gegrawe is. Seewater het vermoedelik oor die droë gebied gespoel tydens ‘n baie hoë hoogwater, die grondpad oorstroom en die gat gevul. Duikers van die Namibiese vloot het gehelp met die uitsleep van die voertuig. ‘n Ontbinde liggaam, Mapanka se identiteitsdokument en ander persoonlike artikels is binne die voertuig gevind. Daar word vermoed die vermiste man het verdrink nadat sy bakkie in die gat beland het tydens die oorstromings en dat die bakkie eers sigbaar geword het nadat die watervlak gesak het. Mapanka se naasbestaandes is ingelig en geen gemene spel word vermoed nie.