Daar is wel loodblootstelling in Rosh Pinah, hoor NV

Loodblootstelling onder babas en kinders in Rosh Pinah deur Trevali Mining Corporation, voorheen bekend as Rosh Pinah Zinc Corporation, was vandag onder die loep in die Nasionale Vergadering. Die LPM se Henny Seibeb het die mynwese-minister, Tom Alweendo, gevra oor die huidige stand van sake. Dit kom nadat die gesondheidsministerie in Julie ‘n ondersoek geloods het na bewerings van wydverspreide chroniese loodblootstelling, en ‘n beweerde toesmeerdery van sulke bewerings deur Trevali. Seibeb het gesê dit is van kardinale belang dat sulke inligting in die openbare domein vrygestel word, aangesien dit ouers, dokters, openbare gesondheidsbeamptes en gemeenskappe in staat sal stel om op te tree. Alweendo sê dat hulle ‘n vergadering met die maatskappy gehad het om die bekommernisse aan te spreek.