DA in Gauteng sê vermindering van R17 miljard-skuldlas sal dienslewering verbeter

Die DA in Gauteng is vol vertroue dat die maatreëls van Tshwane se burgemeester, Randall Williams, om die stad se skuldlas van 17 miljard rand te verminder, vrugte sal afwerp en dienslewering sal verbeter. Die stad het die afgelope weke ‘n streng veldtog geloods om dienste op te skort van verbruikers wat nie betaal nie. Die DA-lid Jacqui Uys sê beheer oor skuldenaars is die eerste tree om die stad se finansies te bestendig en beleggers se vertroue te herstel.