Cyril ontken Glencore-steenkoolprys verbintenis

Suid-Afrikaanse President Cyril Ramaphosa het ontken dat sy politieke verbintenis deur die Glencore-mynmaatskappy misbruik is om die prys van die steenkool te beïnvloed wat Eskom van die Optimum-myn verkry het. Ramaphosa, wat gister voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het, het vrae beantwoord oor aantygings hieroor. Dit het in die getuienis van Brian Molefe en Matshela Koko, wat albei vantevore in die pos van uitvoerende hoof van Eskom gedien het, na vore gekom. Ramaphosa het gesê toe hy die voorsitter van die Shanduka-groep was, is daar besluit om ’n vennootskap te begin om te belê in natuurlike hulpbronne – een daarvan was steenkool. Hy het gesê hy was in daardie stadium ’n sakeman en nie in die regering nie.