Cyril kry 10 dae om te reageer op Phala Phala-paneel

President Cyril Ramaphosa sal tien dae kry om skriftelik te reageer op die onafhanklike paneel wat moet bepaal of daar ‘n saak is waarop hy moet antwoord, betreffende die roof op sy Phala Phala-plaas in Limpopo. Die paneel van drie lede onder voorsitterskap van oud-hoofregter Sandile Ngcobo het parlementslede tot Donderdag tyd gegee om toepaslike inligting voor te lê, waarná Ramaphosa moet reageer. Die paneel sê hy werk met sperdatums waarby streng gehou sal word en alle betrokkenes sal die spertye ook stiptelik moet nakom.