Cumbre Vieja: skuddings het gestaak

Internasionale nuusagentskappe berig dat die skuddings op die Kanarie Eiland se Cumbre Vieja-vulkaan vroeër die week tot ‘n einde geloop het en geen nuwe skuddings is sedert Maandagaand aangemeld nie. Maar, kenners meen dit beteken nie dat die vulkaan se uitbarsting verby is nie. Die vulkaan is na meer as 85 dae stil en lawa-vloei het skerp afgeneem. Die vulkaan het op 19 September uitgebars en het sedertdien amper 3 000 geboue verwoes en honderde piesang-plantasies vernietig. Wetenskaplikes op die eiland meen die uitbarsting kan moontlik na ‘n einde toe kom omdat die lawa die energie van skuddings nodig het om tot by die oppervlak te kom maar maan dat toestande vinnig kan verander.