Covid in Noord-Korea: Gorrel met soutwater, drink kruietee

Noord-Korea sukkel met wat hy sy eerste Covid-uitbreking in die land noem. Pyongyang sê altesaam 42 mense is dood na die vierde dag van ‘n streng inperking. Die land het ‘n uiters swak mediese stelsel en senior regeringsamptenare het groot mediese voorrade in hulle besit. Dit word nou stelselmatig ‘geskenk’ aan gesondheidsinstansies. Amper 300 000 mense het simptome, met erge koors. Met ‘n uiters beperkte toetsvermoë en geen inligting op enige inentings in die land en of enige inentings toegedien is nie, is daar groot kommer oor die stand van sake. Berigte lui dat mense opdrag gegee is om met soutwater te gorrel en kruietee te drink. Dit herinner aan die uitbreking in Mianmar waar die weermag opdrag gegee het aan mense met Covid om te mediteer as hulle sukkel om asem te kry.