Covid-aankondiging weer uitgestel

Terwyl Namibië ‘n ongekende derde vlaag Covid-infeksies en –sterftes beleef met uitdagings wat die land se gesondheidstelsel op sy knieë gedwing het, blyk daar om chaos te wees oor die aankondiging van die jongste maatreëls omdat die huidige maatreëls om middernag verval. Kosmos 94.1 Nuus kon gister geen duidelikheid kry oor wanneer die persvergadering gehou sal word nie en die Presidensie se woordvoerder Alfredo Hengari kon ook geen bevestiging gee nie. Intussen het President Hage Geingob op sy privaat Twitter-blad gesê hy sal die land om 11-uur vanoggend toespreek. Dit is vanoggend twee keer uitgestel, eers na 12-uur en nou na 3-uur vanmiddag.