Covax-entstof kom vandag aan

Die langverwagte AstraZeneca entstof van die Covax-fasiliteit kom vandag in die land aan. Volgens berigte bestaan die besending uit 24 000 dosisse. Die Namibiese Ministerie van Gesondheid het vroeër die week in ‘n brief aan die streke gesê 67 500 dosisse sou aangekom het. Die besending moet volgens die ministerie gebruik word as die tweede spuit tydens die inentingsveldtog. Die AstraZeneca spuit vereis ‘n tweede dosis 12 weke na die eerste een. Namibië het reeds begin om die inenting te gebruik na Indië 30 000 dosisse Covishield, wat dieselfde is as die AstraZeneca spuit, aan die land geskenk het. Intussen het Pfizer aangekondig dat ‘n jaarlikse spuit teen Covid in die toekoms moontlik noodsaaklik kan wees. Die maatskappy het bygevoeg dat persone wat reeds geënt is moontlik weer geënt moet word. Daar is vanoggend net minder as 140 miljoen gevalle van Covid wêreldwyd met net minder as 18 miljoen wat aktief beskou word.