Cosatu bekommerd oor afleggings by SA Poskantoor

Die vakbondfederasie, Cosatu, het sy kommer uitgespreek oor die Suid-Afrikaanse Poskantoor se verwagte aflegging van bykans 6 000 werknemers. Volgens Cosatu se woordvoerder, Sizwe Pamla, kan Suid-Afrika eenvoudig nie meer afleggings bekostig nie omdat die werkloosheidsyfer in die land te hoog is. Vroeër is berig die Poskantoor sal na verwagting dié week met vakbonde oor afleggings begin onderhandel, aangesien sy finansiële toestand slegter word. Pamla sê die regering moet met alternatiewe oplossings vorendag kom om te verseker poste word gered.