CNN dank Chris Cuomo af

Die Amerikaanse TV-aanbieder Chris Cuomo is deur die nuuskanaal CNN afgedank omdat hy sy broer, Andrew Cuomo gehelp het in sy stryd teen bewerings van teistering. Andrew Cuomo het in Augusutus as goewerneur van New York bedank nadat aanklaers beweer het dat hy sy personeel geteister het. CNN sê bykomende inligting het aan die lig gekom oor die omvang van Chris Cuomo se betrokkenheid by pogings om sy broer teen die beskuldigings te verdedig. Hy het glo onder meer onderneem om sy mediakontakte te gebruik om uit te vind of daar nog bewerings van teistering teen sy broer gemaak gaan word. Cuomo het sedert 2013 vir CNN gewerk en was een van die kanaal se bekendste nuus-aanbieders.