CIA stig nuwe eenheid om op China te fokus

Die Amerikaanse sentrale intelligensie-agentskap, die CIA, het ‘n nuwe eenheid aangekondig wat op China sal fokus. Die agentskap se direkteur, William Burns, sê in ‘n verklaring die nuwe sentrum sal die uitdagings hanteer wat die Asiatiese reus vir die Amerikaanse spioenasie-agentskap se sendings inhou. Die aankondiging is in ooreenstemming met die breër verskuiwing in president Joe Biden se administrasie om China as sy grootste strategiese teenstander te beskou. Biden het in Junie ‘n nuwe taakspan in die Pentagon aangestel om Beijing se militêre uitdagings te bepaal en daarop te reageer.