Christine en Beatrice doen dit weer!

Namibië se twee liefling-atlete, Christine Mboma en Beatrice Masilingi hou eenvoudig aan om ore aan te sit vir enige teenstander op die baan. Die twee is tans in die VSA waar hulle aan verskeie byeenkomste deelneem ter voorbereiding vir die sogenaamde Bronze Meet 2022 wat in Gaborone op 30 April gehou word en waar atlete van die vasteland sal kompeteer om te kwalifiseer vir internasionale byeenkomste. Mboma het in Alabama weer ‘n nuwe nasionale rekord opgestel met ‘n tyd van 11,03 sekondes in die 100 meter met Masilingi kort op haar hakke in ‘n tyd van 11,24 sekondes. In die 200 meter het die twee weer gewen met Mboma wat die wedloop in 22,12 sekondes voltooi het met Masilingi wat ingekom het in 22,23 sekondes.