Chinese miljardêr tronk toe gestuur

Die Chinese miljardêr en kampvegter vir maatskaplike geregtigheid, Sun Dawu, is tot 18-jaar tronkstraf gevonnis. Die 67-jarige, ‘n boer wat een van die land se grootste privaat landbou-ondernemings besit, is skuldig bevind vir die aanhitsing van rusies en onenigheid. Die aanklagte sluit in die onwettige besetting van boerdery-grond, die opsweep van ‘n skare om staatsinstansies aan te val en die verhindering van staatsamptenare om hul pligte uit te voer. Sun se saak spruit uit ‘n geringe eiendomsgeskil met ‘n naburige staatsplaas wat verlede jaar in geweld ontaard het.