China, sanksies jaag olieprys skrik op die lyf

Oliepryse het weer vanoggend begin styg en Brent het op ‘n stadium net onder 114 Amerikaanse dollar ‘n vat verhandel. Daar is vrese in die mark oor voorraad. Die Internasionale Energie-agentskap waarsku dat ongeveer 3 miljoen daaglikse vate van Russiese olie vanaf Mei van die mark verwyder kan word weens sanksies, of kopers wat vrywillig Russiese olie vermy. Russiese olieproduksie het in April gedaal en in die eerste helfte van die maand vanaf Maart met 7,5 persent afgeneem. Intussen is daar kommer oor Sjanghai in China wat inperkings teen Woensdag wil begin verslap. Die stad gebruik 4 persent van China se total olieverbruik en verskeie internasionale maatskappye berei reeds voor om bedrywighede te hervat. Op die oomblik verhandel Brent rondom 111 Amerikaanse dollar ‘n vat.