Rommel bedreig Himalajas

Nepal se weermag het tonne rommel, vier lyke en skeletoorblyfsels van Mount Everest en twee ander pieke in die land verwyder.

‘n Opruimingsveldtog van 55 dae, is gehou om Mount Everest, Nuptse en Lhotsand skoon te maak onder die veldtog “Red die Himalajas”.

Mount Everest sukkel al lank met sy status as die “wêreld se hoogste vullishoop” met honderde klimmers wat elke jaar die kruin bereik. Omgewingskenners het beraam dat meer as 50 ton vullis en meer as 200 lyke op Everest begrawe is.

Die land se weermag het in 2019 met jaarlikse opruimingsoperasies begin te midde van kommer oor die klimaatkrisis wat die bestaan ​​van die wêreld se hoogste berg bedreig.

Meer as 600 mense probeer elke jaar die kruin van Mount Everest bereik, en elke klimmer gooi gemiddeld 8kg afval wat bestaan ​​uit suurstofsilinders, tente, koshouers en selfs menslike afval weg. Dit beloop byna 5 ton elke klimseisoen wat strek van Maart tot Mei.

In pogings om afval te verminder, het die Nepalese regering Everest-klimmers gevra om hul ontlasting in sakke na die basiskamp te bring nadat hulle die wêreld se hoogste berg geklim het.

Die plaaslike munisipaliteit het aangekondig dat klimmers verplig sal word om sakke by die basiskamp te koop, wat “met hul terugkeer nagegaan sal word”.

Te midde van kommer oor oorbevolking het die regering 421 klimpermitte uitgereik, teenoor ‘n rekord 478 verlede jaar wat Nepalese gidse uitsluit.

Ongeveer agt klimmers het vanjaar gesterf of vermis geraak. Dit is minder vergeleke met 19 verlede jaar.