Amushe maak lelike aantygings teen Stadspolisie-hoof

Nuwe bewerings het na vore gekom in die Okahandja-skietvoorval waarin vyf mans in April verlede jaar hul lewens verloor het in verband met ‘n beweerde beplande roof. Die mans is deur lede van die Namibiese Polisie en die Windhoek Stadspolisie doodgeskiet. Die aktivis Michael Amushelelo beweer op sosiale media dat die Stadspolisiehoof, Leevi Shivolo Ileka, direk betrokke was by die beweerde moorde. Volgens Amushelelo het hy ontdek dat ‘n broerskind van Ileka een van die betrokke stadspolisiebeamptes was en dat die voertuig waarin die verdagtes geskiet is, meer as ‘n maand voor die voorval deur Ileka verskaf is. Amushelelo voeg by dat die polisie-informant die aand van die skietery by 5 Rand-lokasie in Okahandja afgelaai is, en het nie weggehardloop soos die polisie beweer het nie. Kosmos 94.1 Nuus het met Amushelelo oor die bewerings gepraat.

Amushelelo stel ‘n paar eise aan president Nangolo Mbumba oor die aangeleentheid.