Katar skenk 102 ton droogte-koshulp

Die regering van Katar het 102 ton kospakkies bestaande uit mieliemeel, rys, blikkies beesvleis, kookolie en blikkies tuna aan die regering geskenk. Dit was in reaksie op ‘n oproep deur president Nangolo Mbumba vir hulp van die internasionale gemeenskap te midde van die rampspoedige droogte. Die sekretaris van die kabinet, dr. George Simataa, het die eerste besending voedselhulp namens die regering ontvang. Dit sal deur die streeksrade vir verspreiding na geregistreerde geaffekteerde huishoudings gekanaliseer word. Simataa het ‘n beroep op alle betrokkenes gedoen om te verseker dat die skenking diegene bevoordeel vir wie dit bedoel is.