Aktiviste positief hof sal bevind sodomiewet is ongrondwetlik

Alle oë is die week op die hoërhof waar ‘n volbank regters na verwagting uitspraak in die grondwetlike uitdaging teen die sodomiewet sal lewer. Friedel Dausab, ‘n LGBT-aktivis het die saak gebring en voer aan die kriminalisering van sodomie en verwante misdrywe is ongrondwetlik en diskrimineer. Die wet self is uiters omstrede omdat dit net mans teiken al is die sogenaamde oortreding konsensueel. Daar was tussen 2003 en 2019, 64 arrestasies in die verband. Aktivis Linda Baumann is vol vertroue die hof sal in Dausab se guns beslis.