Cassia Sharpley wil president wees, lok wyd reaksie uit

Die aankondiging deur die 2022 Mej. Namibië, Cassia Sharpley, dat sy aan die presidensiële verkiesing wil deelneem, is oral, sover as Angola en Spanje, en regoor sosiale media berig. Die 23-jarige kan natuurlik nie voor sy 35 word, aan die verkiesing deelneem nie. Sy sê op haar sosiale media, wat propvol kommentaar is oor behuising, landbou en meer, dat sy president wil word op grond van gelykheid, geregtigheid en versnelde groei. Sy het aan die Engelse dagblad, The Namibian, gesê sy het nie vertroue in haar potensiaal om te wen nie, sy het vertroue in die invloed wat sy het as ‘n jong vrou in ‘n land wat ‘n paradigmaskuif na transformasieverandering nodig het. Sy meen daar is baie potensiaal en geen rede vir helfte van die bevolking om in armoede te leef nie. Daar word berig dat sy sê Namibiërs staar nie werkloosheid in die gesig omdat daar nie werk is nie, maar omdat hulle lui is. Haar veldtog sal blykbaar op 7 Januarie amptelik geloods word.