Britse verpleegkundige verloor appèl oor babamoorde

‘n Verpleegkundige van die VK wat lewenslank tronk toe gestuur is nadat sy skuldig bevind is aan die moord op sewe babas in haar sorg, Lucy Letby, het ‘n aansoek verloor om teen haar skuldigbevindings te appelleer. Regter Victoria Sharp van die Appèlhof het tydens ‘n kort verhoor in Londen aangekondig Letby se aansoek is geweier, wat die einde beteken van die appèlproses vir die 34-jarige. Letby is in Augustus skuldig bevind aan sewe moorde en ses pogings tot moord tussen 2015 en 2016 by die Countess of Chester-hospitaal, in Noordwes-Engeland.