Britse media krap in Liz se slaai…

‘n Britse koerant het premier Liz Truss in ‘n wedloop teen ‘n kop blaarslaai gesit en lesers gevra of hulle dink die beleërde eerste minister sou haar werk verloor voordat die slaaikop verrot. Die poniekoerant Daily Star het ‘n foto van Truss langs ‘n slaaikop op sy Twitter-blad geplaas en gevra, ‘Watter nat blaarslaai sal langer hou?’ Dit het reaksie van ander media in die land uitgelok met die Economist wat Truss as ‘The Iceberg Lady’ beskryf het en sê sy het die raklewe van ‘n blaarslaai. Truss se politieke rolmodel, 1980’s premier Margaret Thatcher, was alom bekend as die Ystervrou. Truss het Vrydag haar minister van finansies, Kwasi Kwarteng, ná net 38 dae in die amp afgedank. Die twee was onder toenemende druk om ‘n rampspoedige ekonomiese pakket om te keer wat die Bank of England gedwing het om in die effektemark in te gryp en die Konserwatiewe Party-kollegas aangespoor om openlik te bespreek of sy vervang moet word.