Britse hervestigingsplan in Rwanda skerp veroordeel

Amnestie Internasionaal het Brittanje se plan om asielsoekers en sekere ander migrante in Rwanda te hervestig as skokkend, oneties en onmenslik afgemaak. Dié organisasie se Britse direkteur van Vlugteling- en Migranteregte, Steve Valdez-Symonds, sê dit wys hoe ver Boris Johnson se regering van menslikheid en die werklikheid verwyder is. Valdez-Symonds sê die plan sal nie net verdere swaarkry tot gevolg hê nie, maar ook groot hoeveelhede van belastingbetalers se geld mors. Johnson het met die bekendmaking van die plan gesê Rwanda word wêreldwyd erken as ‘n land wat migrante verwelkom en integreer.