Brent verloor 7,2% in sewe dae

Brent ru-olie het in die afgelope week met 7,2 persent gedaal en gedurende die afgelope 30 dae, het die kommoditeit met 15,79 persent teruggesak. Ontleders sê die daling kom as gevolg van vrese oor potensiële resessie-aangedrewe afswaai in vraag. Sentrale banke verhoog rentekoerse om inflasie te tem, wat vrese aanwakker dat stygende leenkoste groei kan onderdruk. Intussen is daar weer kommer oor Covid in Sjanghai in China. Maar, oliepryse het oor die eerste helfte van die jaar die hoogte ingeskiet. Brent ru-olie het naby die rekordhoogtepunt van 147 Amerikaanse dollar ‘n vat gekom nadat Rusland sy inval in die Oekraïne in Februarie geloods het. Op die oomblik verhandel ‘n vat rondom 104 Amerikaanse dollar.