Brasilianse Bolsanaro-ondersteuners bestorm kongres-kompleks

Duisende ondersteuners van Brasilië se voormalige verregse President, Jair Bolsonaro het die kongres-kompleks in die hoofstad, Brasilia bestorm. Van die ondersteuners het tot in die senaatsaal gekom, terwyl ander die presidensiële paleis, die hoogste hof en ander regeringsgeboue binnegedring het. Beeldmateriaal toon hoe hulle vensters breek en meubels beskadig. Die veiligheidsmagte sê hulle het nou weer beheer oor die kongresgebou teruggeneem, en sowat 200 mense is in hegtenis geneem. Bolsonaro se ondersteuners weier om te aanvaar dat hy die verkiesing in Oktober verlede jaar verloor het. Sy teenstander, Luiz Inacio Lula da Silva, is ‘n week gelede as President ingehuldig. Bolsonaro, wat volgens berigte tans in Florida in Amerika is, het die betogings veroordeel en ontken dat hy ‘n rol gespeel het om sy ondersteuners aan te hits.