Boulter appelleer

Die Britse miljadêr en moordverdagte Harvey Boulter, sal op 13 Julie appelleer teen die weiering van borg in die Outjo-landdroshof. In sy stukke sê Boulter dat hy na die formele aansoek wat van 5 tot 7 Mei aangehoor is, borg geweier is op grond van verskeie kwessies wat die ernstigheid van die klagte en moontlike inmenging met getuies insluit. Hy maak melding van die miljoene wat hy belê het in Namibië en sê die familie van Gerhard van Wyk, wat volgens berigte deur hom doodgeskiet is, is soos sy eie familie en hy ken hulle ook reeds meer as tien jaar. Familielede het ook getuig dat hulle nie borg vir Boulter teenstaan nie. Die saak verskyn vandag op die rol maar is uitgestel tot volgende week Dinsdag. Dit sal deur regter Claudia Claasen aangehoor word. Boulter was nog nie ‘n dag agter tralies sedert die insident op 27 Februarie plaasgevind het nie. Hy is tans in Paramount-hospitaal in die hoofstad.