Botswana wil Kimberley-proses huisves 

Namibië sal Botswana se pogings om ‘n permanente nuwe hoofkwartier en sekretariaat vir die Kimberley-proses te huisves, ondersteun. Die Kimberley-proses is ‘n wêreldorganisasie wat poog om handel in diamante uit konflikgebiede te bekamp. Botswana is naas Rusland die wêreld se grootste diamantprodusent en die land speel op die oomblik ‘n baie belangrike rol as gevolg van sanksies teen Rusland oor die konflik in die Oekraïne. Botswana, wat sedert November die roterende voorsitterskap van die Kimberley-proses by Rusland oorgeneem het, sal teen China en Oostenryk meeding om gasheer vir die hoofkwartier te wees. Die Kimberley-proses is in 2003 deur regerings, burgerregtegroepe en rolspelers in die bedryf begin om deursigtigheid te verhoog en handel in sogenaamde “bloeddiamante” te probeer uitskakel.