Botswana-hof handhaaf Khama se arrestasiebevel

‘n Hof in Botswana het ‘n aansoek van oudpresident Ian Khama om ‘n arrestasiebevel teen hom ter syde te laat stel, van die hand gewys. Die lasbrief is laat in Desember deur ‘n streeklanddros uitgereik nadat Khama, wat glo sedert November 2021 in Suid-Afrika woon, nie in die hof opgedaag het om aanklagte wat in April teen hom gelê is, te beantwoord nie. Die aanklagte sluit onder meer die onwettige besit van ‘n vuurwapen, die ontvangs van gesteelde eiendom en die verkryging van die registrasie van ‘n vuurwapen deur valse voorwendsels in. Die hooggeregshof in Gaborone het beslis dat Khama se aansoek nie aan die vereistes voldoen vir die lasbrief om ter syde gestel of uitgestel te word nie, en sê hy het ook versuim om te regverdig waarom die saak as dringend hanteer moet word. Sy prokureur sê Khama het nog nie ‘n besluit geneem om teen die uitspraak te appelleer of nie.