Springbokke druk nege drieë teen Italië

Rugby: Die Springbokke het sewe drieë in die tweede helfte van hulle wedstryd teen Italië ingeryg vir ‘n oorwinning van 63-21 in Genoa. Die Suid-Afrikaners het altesaam nege drieë teen die Azzuri’s se twee behaal. Die oorheersende vertoning volg na naelskraapse nederlae teen Ierland en Frankryk. Dit was die Bokke se eerste sege sedert hulle Argentinië in September geklop het. Dit was net wat hulle nodig gehad het in hulle voorbereiding vir die afsluiting van hul toer in die Noordelike Halfrond met ‘n toets teen Engeland Saterdag op Twickenham. In gisteraand se langverwagte toets tussen Engeland en Nieu-Seeland in Londen het die tuisspan in die laaste minute van die wedstryd teruggeveg en die telling gelykop met 25-elk teen die All Blacks gemaak.