Bokke: so lyk die span

Frans Steyn en Morné Steyn gaan dalk die seldsame eer beleef om vir ‘n tweede keer teen die Britse en Ierse Leeus uit te draf. Hulle is deel van wat SA Rugby beskryf as ‘n dinamiese Springbok-groep. Die hele span wat in 2019 die Wêreldbeker gewen het, is ingesluit in die groep wat hoofafrigter Jacques Nienaber vir die Leeus-reeks en Georgië-uitdunne aangewys het. Die enigste Wêreldbekerwenners wat nie daar is nie, is Tendai Mtawarira, Francois Louw en Schalk Brits wat al drie sedertdien uitgetree het, en die beseerde Warrick Gelant. Die nuwe spelers in die groep is die haker Joseph Dweba, slot Nicolaas Janse van Rensburg, losvoorspeler Jasper Wiese, skrumskakel Sanele Nohamba, senter Wandisile Simelane, die vleuels Yaw Penxe en Rosko Specman en die heelagter Aphelele Fassi. Sewe spelers spog met 50 of meer wedstryde vir die Springbokke. Eben Etzebeth is voor in die ry met 85 verskynings.