Bisdom van Rome ontsteld oor Nazi-vlag by begrafnis

Die bisdom van Rome het sy verontwaardiging uitgespreek, nadat ‘n Nazi-vlag oor ‘n kis gedrapeer is tydens ‘n begrafnis by ‘n kerk in die stad. Internasionale nuusagentskappe berig ‘n foto wat deur die La Repubblica-koerant gepubliseer is, wys roubeklaers rondom ‘n kis buite die Santa Lucia-kerk. Die kis was bedek met ‘n rooi vlag, versier met ‘n swastika. Die kerk sê gister se begrafnis was dié van Alessia Augello, ‘n lid van Forza Nuova. Dié neo-fascistiese groep het die blaam gekry vir verlede Oktober se gewelddadige protesaksie in sentraal-Rome, wat eerste minister Mario Draghi se kantoor en die parlement geteiken het.