Bipa sê daar is 230 Chinese ondernemings in Namibië

Die Besigheids- en Intellektuele Eiendomsowerheid, Bipa, sê hy het meer as 230 ondernemings in Chinese besit in Namibië geregistreer. Die aankondiging kom op ‘n tyd dat daar kommer is oor Chinese ondernemings wat in Namibië bedrywig is sonder geldige dokumente, en ook vervalste goedere verkoop. Daar is die week ‘n vergadering tussen Bipa en dié sakesektor gehou. Die adjunk-handelsminister Verna Sinimbo sê dit is uiters belangrik dat Bipa nou saam met die sakesektor in die land, sowel as die owerheid vir intellektuele eiendom in China self, werk. Sy is van mening dat gebiede van patentondersoek en digitalisering van die besigheidsprosesse veral belangrik is. Sy sê die registrasie en beskerming van intellektuele eiendom is ‘n kragtige hulpmiddel vir besighede om hul idees, innovasies en skeppings te beskerm. Intellektuele eiendom kan as kollateraal vir lenings of beleggings gebruik word, aangesien dit ‘n tasbare bate verskaf wat gewaardeer en aangewend kan word. Daarom moet dit beskerm word. Die inkomste-agentskap, NamRA het ook onlangs daadwerklike stappe geneem om vervalste goedere te konfiskeer.