Biden en Ji gesels per telefoon

Die Amerikaanse president, Joe Biden, en die Chinese leier, Xi Jinping, het hul eerste telefoongesprek in sewe maande gehad. Die Withuis sê in ‘n verklaring die twee leiers het ‘n breedvoerige en strategiese gesprek gehad en gesamentlike belange asook ‘n verskil in belange, waardes en perspektiewe bespreek. Volgens internasionale media , is die verhouding tussen Amerika en China stram, oor botsende kwessies soos handel, spioenasie en die Covid-19-pandemie. Die verklaring voeg by Biden het Amerika se voortgesette belang in vrede, stabiliteit en welvaart in die Indo-Stille Oseaan-streek benadruk.