Bibberweer: Eerste sneeu die naweek in SA

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel die eerste sneeu van die jaar sal die naweek dele van Suid-Afrika tref en Namibiërs behoort ook dan kouer te kry. Aansienlik laer temperature word verwag oor streke soos die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat en die oostelike dele van Noordwes. Die diens sê ligte sneeu is moontlik oor die suidelike dele van die Drakensberg, sowel as die berge in Lesotho. Die noord-oostelike dele van Suid-Afrika kan ook swaar reën verwag.