Betoging in Kaapstad teen Covid-19-inentings

Sowat 600 mense wat gekant is teen Covid-19-inentings het op die Seepunt-promenade in Kaapstad betoog. Sommige van hulle plakkate het die 9/11-terreuraanvalle, Covid-19 en inentings as ‘n bedrogspul afgemaak. ‘n Woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, Joseph Swartbooi, sê ‘n saak van die beweerde oortreding van inperkingsregulasies is geopen, want die betoging was onwettig. Niemand is egter in hegtenis geneem nie, ondanks die feit dat die mense nie maskers gedra of sosiale afstande gehou het nie. Swartbooi sê die betoging was vreedsaam en geen skade of beserings is aangemeld nie.