Betoë in Florin-aansoek moet vandag ingedien wees

Die saak waarin Thomas Florin, die man wat in 1998 sy vrou Monica, in Swakopmund vermoor, haar liggaam opgesny en gekook het, en sê hy moet in aanmerking kom vir parool, is tot 30 Oktober uitgestel. Florin is in Desember 1999 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan moord, lykskending en dwarsboming van die gereg. Regter Boas Usiku het instruksie gegee dat beide partye hoof-betoë teen vandag by die hof moet indien. Die “Swakopmund-slagter” poog weer om vrygelaat te word nadat die saak van die rol verwyder is en aan ‘n voorsittende regter oorhandig is. Ter sprake is die wet wat hersien is van die 1959 wetgewing en op 15 Augustus 1999 in werking getree het. Luidens die nuwe wetgewing moet 25 jaar uitgedien word waar die 1959-wetgewing tien jaar toegelaat het voor parool oorweeg is. Dus sê Florin in sy stukke dat omdat hy onderhewig is aan twee verskillende wette, een wat geldig was toe hy Monica vermoor het, en die ander toe hy gevonnis is, moet die datum van die oortreding gebruik word. Hy hou voet by stuk dat hy sy vonnis onder die 1959-wetgewing uitdien. Florin sal op 3 Desember vanjaar 24 jaar agter tralies wees.