Besoekers aan Duin 7 moet vanaf Desember toegangsfooi betaal

Besoekers aan die gewilde toeriste-trekpleister Duin 7 naby Walvisbaai sal vanaf Desember ‘n toegangsfooi moet betaal. Volgens die woordvoerder van die omgewingsministerie, Romeo Muyunda, is die fondse nodig om die terrein by Duin 7 in stand te hou. Hy sê hoewel Duin 7 ‘n groot toeriste-trekpleister is, is die geriewe, veral die toilette, nie in ‘n goeie toestand nie. Muyunda sê die ministerie het in ‘n kennisgewing geadverteer dat hulle op soek is na iemand om Duin 7 as ‘n winsgewende besigheid te bedryf en verdere ekonomiese voordele vir die land te bring. Hy het ook alle besoekers aan die kus gedurende die feesseisoen versoek om na die omgewing om te sien en hulle te weerhou van rommelstrooiing en ander onwettige aktiwiteite wat die brose omgewing beskadig.