Beleggings-invloei verlangsaam effe

Namibië het in die derde kwartaal ‘n beleggings-invloei van 8,8 miljard Namibiese dollar aangeteken, wat ‘n afname was vanaf die 10 miljard dollar invloei in die tweede kwartaal. Dit is egter op ‘n jaargrondslag hoër as die 6,1 miljard dollar wat in die derde kwartaal verlede jaar aangeteken is, volgens die Bank van Namibië se Kwartaallikse Verslag. Beleggings in die derde kwartaal is hoofsaaklik gedryf deur aandele-inspuitings vir olie- en gaseksplorasie, asook intermaatskappy-skuld. Portefeuljebeleggings het ‘n netto kapitaaluitvloei van 2,5 miljard dollar geregistreer vergeleke met ‘n kapitaalinvloei van 235 miljoen dollar in die derde kwartaal verlede jaar, maar dit was laer as die 8,1 miljard dollar kapitaaluitvloei in die tweede kwartaal.