Beleërde Amushelelo stoei teen Bank, aanklaer-generaal

Daar is twee sake teen die omstrede en beleërde Michael Amushelelo in die hoërhof vanoggend. In die eerste duur die aanklaer-generaal se aansoek vir bewaringsbevele voort. Martha Imalwa se kantoor wil bevele vir agt luukse voertuie sowel as 13 verskillende bankrekenings bekom. Amushelelo staan die aansoek teen. Intussen, soek Bank Windhoek steeds ook een van die voertuie wat Imalwa wil hê. Die bank sê hy skuld net meer as 980 000 Namibiese dollar op die voertuig en wil dit terughê. Die bank het ‘n aansoek vir ‘n summiere vonnis ingedien wat Amushelelo verdedig. Intussen sal hy en sy medebeskuldigdes Maandag in die landdroshof in Katutura moet pleit op klagte teen aanhitsing tot openbare geweld en meer, na amok in Chinatown vroeg in Mei vanjaar. Amushelelo het ook verskeie chaotiese besoeke aan maatskappye in die hoofstad gebring om blykbaar werkers te verteenwoordig. Hy en sy een kader, Dimbulukeni Nauyoma, is steeds in aanhouding en uitspraak in hul appèlsaak teen die weiering van borg word op 22 Augustus verwag.