Bekende rot-held Magawa tree af

Die bekendste Hero Rat van die welsynsorganisasie Apopo, Magawa, het afgetree. Hy is een van die organisasie se Afrika-rotte wat in Kambodja werksaam was. In September verlede jaar is hy die hoogste eer wat ‘n dier kan ontvang, toegeken. Magawa het die internasionale militêre PDSA Goue Medalje vir braafheid ontvang. Hy het in sy vyf-jaar loopbaan, 71 landmyne en 38 bomme uitgesnuffel in ‘n gebied van 225 000 vierkante meter. Magawa is sewe jaar oud, wat eintlik baie oud is omdat Afrika-rotte normaalweg tussen ses en agt jaar oud word. Apopo is ‘n nie-winsgewende organisasie wat opgeleide Afrika-rotte ontplooi na lande waar landmyne voorkom. Die rotte word ook opgelei om tuberkulose en selfs kanker uit te snuffel.