Bek-en-klouseer in Namibië bly in die nuus

Namibië se dieregesondheidstatus bly in die nuus, veral met uitdagings wat onlangs met bek-en-klouseer in die buurland ervaar is. Volgens die voorsitter van die Lewendehawe Produsente-organisasie, Thinus Pretorius bly dié status ‘n krities belangrike faktor vir die veebedryf en verskeie uitdagings word in hierdie verband beleef. Hy sê Namibië is ’n uitvoerland van lewendehawe en vleis en is grootliks afhanklik van uitvoermarkte en sou een positiewe geval van bek-en klouseer om welke rede ook al geïdentifiseer word in Namibië suid van die veterinêre kordonheining, sal alle uitvoermarkte oornag gesluit word en die totale lewendehawebedryf tot stilstand kom met katastrofiese ekonomiese gevolge. Hy voeg by dat dit ook uiters belangrik is dat die status noord van die kordonheining verbeter word om Namibië se totale vleisbedryf te bevoordeel. Die skynbaar onbeheerbare uitbreking van bek-en-klouseer in Suid Afrika verhoog verder die risiko.