Bedrogspul met gebottelde water in SA

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Gebottelde Watervereniging waarsku teen kulkunstenaars wat water botteleer. Die organisasie het sy skok uitgespreek oor ‘n wetenskaplike artikel wat beweer drie handelsmerke wat in Pretoria verkoop word, is ongeskik vir menslike gebruik. Die uitvoerende hoof, Charlotte Metcalf, sê die bevindings beklemtoon die noodsaaklikheid vir verbruikers om betroubare handelsmerke te kies. Sy sê ook dit is kommerwekkend dat die bevindings gepubliseer is 18 maande nadat die toetsbottels aangeskaf is.