Bedrogsaak van Bosasa se gewese bedryfhoof tot Maart 2022 uitgestel

Die bedrogsaak van Bosasa se gewese bedryfshoof, Angelo Agrizzi, is in die Palm Ridge handelsmisdaadhof in Gauteng tot Maart volgende jaar uitgestel. Agrizzi moet mediese toetse ondergaan om vas te stel of hy gesond genoeg is om verhoor te word. Die voormalige bedryfshoof het aansoek gedoen dat sy borgtogvoorwaardes verslap word. Die argumente is ingedien, maar nie in die hof bepleit nie. Agrizzi se borgvoorwaardes bly voorlopig dieselfde, behalwe dat hy van Vrydag 10 Desember by die polisiestasie in Douglasdale moet aanmeld.