Banyana verloor 4-1 teen Australië

Banyana Banyana het ‘n groot pak slae op die lyf geloop toe die Australiese Matildas hulle met 4-1 in Londen geklop het. Die Suid-Afrikaanse nasionale span het nou drie internasionale vriendskaplike wedstryde na mekaar verloor sedert hulle as die Afrika-kampioene gekroon is. Hildah Magaia het die troosdoel vir Banyana drie minute voor die eindfluitjie aangeteken. Albei lande berei voor vir volgende jaar se Fifa-Vroue-Wêreldbeker wat gesamentlik deur Australië en Nieu-Seeland aangebied word. Die span van Desiree Ellis sal eers weet wie hulle Wêreldbeker-teenstanders is na die amptelike loting op 22 Oktober.