Bankkoste kan styg as SA op gryslys geplaas word

Koste vir banke en staatsinstellings kan styg as Suid-Afrika op die gryslys geplaas word. Die Finansiële Aksie-taakspan sal na verwagting hierdie week hieroor beraadslaag. Indien die land op die gryslys geplaas word, sal finansiële ondernemings met buitelandse bankrekenings outomaties as kliënte met ‘n groter risiko beskou word, wat meer omsigtigheids-ondersoeke sal meebring. Verhoogde koste kan dan aan kliënte oorgedra word. Ontleders van S en P Global Ratings sê Suid-Afrika se regering en ondernemings in staatsbesit sal dit moeiliker vind om geld te leen, terwyl bank- en batebestuurs-fooie kan styg.