Baie min geld vir informele sektor

Die Namibiese Ministerie van Handel sal ‘n skamele 17,4 miljoen Namibiese doller bestee aan sy industrialisasie program. Volgens Minister Lucia Iipumbu poog die program om die informele ekonomie te ontwikkel en informele handelaars se besighede te formaliseer. Die informele ekonomie maak op die oomblik meer as 30 persent van die plaaslike ekonomie uit, wat ook uit desperaatheid gedryf is eenvoudig omdat daar nie werksgeleenthede is nie. Die regering spreek reeds ‘n geruime tyd sy kommer uit oor die verlies in inkomste as gevolg van die sektor wat glad nie gereguleer is nie. Die ministerie het 160 miljoen doller opsy gesit vir sy 4 programme waarvan die industrialisasie program een is.