Babi hoor vandag oor sy vonnis

Uitspraak word vandag verwag in die aansoek deur die renosterstroper en selfverklaarde profeet Jackson Babi, om appèl. Regters Naomi Shivute en Herman Januarie het sy aansoek op 30 Oktober aangehoor. Babi appelleer teen sy vonnis van 27 jaar vir renosterstropery. Hy is in September verlede jaar op Gobabis op 11 klagte skuldig bevind. Hy is in Mei 2020 in Kleine Kuppe in hegtenis geneem na ‘n klopjag op sy huis en renosterhorings wat daar gevind is, hom verbind het aan die stropery van twee renosters naby Gobabis. Babi het ook gepoog om die ondersoekbeampte om te koop met 13 000 Namibiese dollar om borg vir hom te verseker. Intussen berig plaaslike media dat Babi en sy vrou, Maria, gedagvaar word vir uitstaande huur. Die eiendom is in Kleine Kuppe en die maandelikse huur beloop 30 000 Namibiese dollar. Die eienaar Josua Kaukungwa, het aansoek by die hof ingedien vir betaling van net meer as 81 400 dollar. Babi is sedert Mei 2020 in aanhouding.