Baas van veganistiese maatskappy byt man se neus amper af

‘n Bestuurder van ‘n veganistiese voedselmaatskappy is aangekla van derdegraadse aanranding en ‘n terroristiese dreigement nadat hy na bewering ‘n man se neus gebyt het, soveel so, dat die slagoffer se neus oopgeruk is en begin bloei het. Doug Ramsey, bedryfshoof van Beyond Meat, was volgens Amerikaanse media buite ‘n sokkerstadion in Arkansas betrokke in ‘n woordewisseling na sy motor lig gestamp is deur ‘n ander bestuurder. Die 53-jarige word daarvan beskuldig dat hy die man aangeval het. Ramsey, wat vir Tyson Foods en McDonald’s gewerk het voordat hy in Desember verlede jaar by Beyond Meat aangesluit het, het glo uit sy voertuig geklim en deur die voorruit van die ander motor geslaan en die bestuurder te lyf gegaan. Hy het die man hard op die neus gebyt en gedreig om hom dood te maak.