B2Gold begroot N$180 miljoen vir eksplorasie naby Otjikoto-myn

Die Kanadese goud-maatskappy B2Gold het aangekondig hy gaan vanjaar voort met eksplorasie by die Otjikoto myn en het 180 miljoen Namibiese dollar daarvoor begroot. Die maatskappy, wat ‘n 90% belang in die myn het, het vroeër sy bedrywighede by die myn begin afskaal weens uitgeputte hulpbronne. B2Gold sê in ‘n verslag die myn het in die laaste kwartaal van verlede jaar ‘n kwartaallikse rekord van 81 111 onse goud gelewer. Die jaarlikse totaal was 208 598 onse goud. Daar word nou ‘n totaal van 39 kilometer se boorwerk beplan by die onlangs-ontdekte Antelope ertsafsetting, sowat 3 kilometer suid van Fase 5 van die Otjikoto oopgroefmyn.