Die Blou Bulle se vroue rugbyspan oorheers Vroue Premier-liga

Die vierde ronde van die Vroue Premier-afdeling is deur die Blou Bulle se vroue span oorheers. Hulle het van die sesde tot die derde plek op die punteleer opgeskiet na ‘n indrukwekkende oorwinning van 43-17 oor die EP Queens in Port Elizabeth. Die Westelike Provinsie en die Grens se vrouespanne het hulle posisies bo aan die punteleer versterk. Ayanda Malinga, wat die Springbokvroue- en die Imbokodo-spanne al verteenwoordig het, het drie drieë vir die Blou Bulle gedruk. Libbie Janse van Rensburg het haar goeie vertoning vroeg in die seisoen voortgesit deur twee drieë en vier doelskoppe by te voeg.


Boris haak vir ‘n derde keer af

Boris Johnson, het vir die derde keer in die huwelik getree. Die Britse eerste minister het met sy verloofde, Carrie Symonds, in ‘n verrassende seremonie in die Westminster-katedraal getrou. Johnson is 56 en Symonds 33. Die paartjie het in 2019 op die eiland Mustique verloof geraak en het ‘n eenjarige seun, Wilfred. Die seremonie in die Katolieke katedraal is deur vader Daniel Humphreys waargeneem wat ook die paartjie voorhuwelikse raad gegee en Wilfred verlede jaar gedoop het.


Mediavryheid-waghond vra Zimbabwe om Jeffrey Moyo vry te laat

‘n Mediavryheid-waghond het ‘n beroep op die regering van Zimbabwe gedoen om ‘n plaaslike joernalis vry te laat wat beskuldig word dat hy die buurland se immigrasiewette oortree het. Jeffrey Moyo het ‘n verslaggewingsbesoek vir twee buitelandse kollegas gereël. Die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste in New York sê die aanklagte, sonder enige gronde, moet laat vaar word. Die 37-jarige Moyo is aangekla dat hy die Immigrasie-wet oortree het deur die joernaliste van die New York Times, Christina Goldbaum en Joao Silva, te help het om Zimbabwe binne te kom.


Venaani en Malema kuier saam

Die Popular Democratic Movement se leier, McHenry Venaani, was die gas by ‘n aandete wat deur die leier van die Suid-Afrikaanse Freedom Fighters, Julius Malema aangebied is. Albei het die Pan-Afrika parlement in Midrand Gauteng bygewoon. Venaani was verlede week in die nuus toe hy op die tweede dag by die Pan-Afrika parlement oor ‘n gebrek aan eenheid in Afrika gepraat het. Hy het gesê die gebrek aan eenheid is veral deur mense van Wes-Afrika veroorsaak. Voor hy sy toespraak kon eindig, het woedende lede van Franssprekende lande in Wes-Afrika aan hom in Frans geskree dat dit nie korrek is nie.


Novak lyk goed vir die Franse Ope

Tennis: Die wêreld se nommer-een speler, Novak Djokovic, het sy opwarmingstoernooi vir die Franse Ope, wat vandag begin, in sy guns beklink. Djokovic het Alex Molcan van Slowakye met 6-4 en 6-3 in sy tuistoernooi in Belgrado geklop. Dit was die 34-jarige se tweede titel van die seisoen en die 83ste van sy loopbaan. Djokovic kort twee kampioenskapstitels om die gesamentlike mans enkelspel-rekord van 20 Grand Slams van Rafael Nadal en Roger Federer te ewenaar. Hy kon die toernooi op Roland Garros nog slegs een keer, in 2016, wen.


Independent Media in Suid-Afrika vra Ramos onverskoning

Independent Media in Suid-Afrika het Maria Ramos om verskoning gevra vir ‘n artikel wat in Desember verlede jaar op die IOL-webtuiste en in The Star gepubliseer is. Die mediagroep gee toe die artikel het ‘n aantal vals en lasterlike bewerings oor die huidige voorsitter van AngloGoldAshanti bevat. Dit is onder meer dat sy die rand gemanipuleer het, en dat haar optrede strafregtelike aanklagte van hoogverraad en korrupsie regverdig. Die mediagroep het sy bewerings onvoorwaardelik teruggetrek en om verskoning gevra.


SA Mediese Navorsingsraad oor suurstof in die buurland vir Covid-19 gevalle

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad sê intussen die buurland kan nie toelaat dat sy suurstof opraak te midde van die stryd teen die derde Covid-19-vlaag nie. Navorsing het onthul dat Suid-Afrika onder 19 lande is waar die gevaar dat sy suurstofvoorraad kan opraak, die grootste is, terwyl die aantal koronavirusgevalle daagliks skerp toeneem. Die Mediese Navorsingsraad sê egter hy is vol vertroue dat die ondervinding wat tydens die twee vorige uitbrake opgedoen is, beteken daar is nie nie ‘n rede tot paniek nie.


Covid-19 gemiddelde die afgelope tyd in die land

Daar is volgens die jongste statistiek van die Namibiese ministerie van Gesondheid die afgelope tyd gemiddeld 262 nuwe Covid-19 gevalle in die land bevestig met Windhoek wat die meeste gevalle aangeteken het. Onder die 391 nuwe gevalle was daar 48 leerlinge, 22 onderwysers, 12 studente en 21 gesondheidwerkers. Die aktiewe gevalle staan tans op 3 589 waarvan 254 in die hospitaal en 45 in intensiewe sorg is. 50 241 of te wel 92% het herstel en daar is reeds 67 593 mense teen Covid-19 ingeënt.


Ouers word gemaan om betrokke te raak by hulle kinders se digitale lewens

Die Film- en Publikasieraad in Suid-Afrika gaan 20 gemeenskappe en skole in die buurland besoek om groter bewustheid tydens Kinderbeskermingsweek te kweek. Die raad beplan van vandag af ‘n reeks slypskole in Limpopo, Mpumalanga en die Wes-Kaap. ‘n Woordvoerder, Lynette Kamineth, sê die onlangse geval van afknouery wat oral op sosiale media versprei is en tot die selfdood van ‘n tiener van Limpopo aanleiding gegee het, is ‘n skrille wekroep vir ouers, onderwysers en versorgers om meer by hulle kinders se digitale lewens betrokke te raak.


Ramaphosa oor die ANC

Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, sê die party het goeie en slegte tye oorleef. Hy het ‘n virtuele toespraak by die verkiesingskonferensie van die party in die Noord-Kaap gelewer. Ramaphosa het ‘n beroep op die provinsiale uitvoerende komitee gedoen om deur te druk met die hernuwingsagenda, en eenheid en transformasie in die ANC te bevorder. Sonder om die geskorste sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, by name te noem, het hy ‘n beroep gedoen vir minder verdraagsaamheid vir gedrag wat teen die kultuur van die ANC indruis.